postheadericon LETTER TO EDITOR OF DIE BURGER

Fanie Gerber, a member of the False Bay team which won the Grand Challenge, attended the match between False Bay and Villager at Constantia.

This is a letter he wrote to the editor of Die Burger, which was published. It has been transcribed from print for use on the site.

KLUBRUGBY-STRYD INDRUKWEKKEND

Na baie jare (ongeveer 38 jaar) het ek besluit om weer te gaan kyk wat met klubrugby in die WP aangaan.

Ek was toevallig verlede week in die Kaap op besoek. Nadat ek die wedstryd van die Springbokke gekyk het, moes ek wegkom van die TV; en dis toe dat ek in Die Burger  lees van klubrugby in Constantia. Net daar besluit ek om te ry en te gaan kyk hoe Valsbaai en Villager teen mekaar speel.

Hier het my gedagtes terggegaan na 1972, toe ek vir Valsbaai in die Groot Uitdaagbeker-eindstryd gespeel het en ons dit gewen het.

Wat 'n groot geleentheid was dit nie. Daardie jare was klubrugbyondersteuining baie goed en het Nuweland baie toeskouers en ondersteuners van klubs getrek het, veral met plaaslike derby-geleenthede. Selfs as ons tuiswedstryde gespeel het, was daar altyd baie toeskouers en ondersteuners.

Nadat ek baie jare in Namibie was en nou terug is in die Wes-Kaap, was dit vir my 'n besonderse geleentheid om weer klubrugby op die Constantiaveld te ervaar.

Die twee klubs, Valsbaai en Villagers, het teen mekaar gespeel, en wat 'n goeie gees het daar nie tussen die spelers op die veld en die toeskouers onder mekaar geheers nie. Dit het swaar op die veld gegaan, en die toeskouers het die rugby geniet. Die atmosfeer was werklik aangenaam.

As dit is wat klubrugby aan ondersteuners en toeskouers doen, dan kan ons maar hierdie klubs ondersteun en die wedstryde bywoon. Goeie rugby is gespeel, en 'n goeie gees het geheers.

Dankie vir die goeie organisasie. Ek sal weer kom kyk.

Fanie Gerber
Hartenbos